Wagyu’s kry eie, nis-abattoir

Oorsese markte die mikpunt 

‘n Wagyu-teler met jarelange kennis van nismark-sakeontwikkeling staan aan stuur van sake om ‘n aanleg te ontwikkel wat in Wagyu-boere se unieke vereistes voorsien. 

Sarel du Toit, Wagyu-teler en direksievoorsitter van die DAS-groep: “Hier word die produsent betaal vir die gehalte wat hy lewer.” 

Elvira Hattingh 

‘n Namibiese abattoir wat daarin spesialiseer om Wagyu-beeste, maar ook kleinvee vir premie-markte te slag, open eersdaags sy deure op Rehoboth.  

Buiten dat die C-klas abattoir reeds in werking is, kry dit ook nou sy voetwerk reg om reeds teen die einde van November in ‘n B-klas abattoir omgeskakel te wees, sodat dit na SADC-lande kan uitvoer.   

Mnr. Sarel du Toit, ‘n Wagyu-teler van Dordabis en direksievoorsitter van die DAS-groep van maatskappye wat die inisiatief saam met Jaco Smit as Uitvoerende hoof  dryf, verduidelik dit word alles gedoen sonder om produksie vir tussenposes langer as 3 dae op ‘n keer  te onderbreek.  

“Ons volgende oogmerk is om teen einde April volgende jaar ‘n klas-A abattoir te wees. Dan sal dit beskik oor verwerkings- en ontbeningsgeriewe asook verpakkingsfasiliteite. Hierdie inisiatief sal beheer en bestuur word deur die Desert Wagyu maatskappy wat aan Wagyu telers behoort en deur Barrie de Beer bestuur sal word. 

“Ons hoop om teen die einde van volgende jaar in die posisie te wees om ‘n kwota of toegang te verkry tot die Europese Unie asook die Skandinawiese lande.” 

Du Toit sê die besluit om ‘n eie abattoir vir die beesras op die been te bring, is gebore uit die unieke vereistes vir die verwerking en gradering van Wagyu-karkasse – iets waarmee of waarvoor bestaande abattoirs nie werklik spasie en tyd  kon skep nie.  

Boonop beteken ‘n eie abattoir Wagyu-produsente sal nou volgens marmering vir hul baie gesogte produk betaal word, en nie soos by die ander abattoirs – ‘n gegewe prys vir diere wat geklassifiseer word as ‘n A-, B- of C-klas nie.  

“Hoe beter die marmeringstelling, hoe beter sal die prys wees. Hier word die produsent betaal vir die gehalte wat hy lewer.” 

UNIEKE VEREISTES 

Du Toit sê plaaslike Wagyu-telers het verskeie uitdagings ervaar as dit by plaaslike abattoirs kom, wat insluit ‘n beperking  met slagbeurte asook die korrekte en eiesoortige  ontbening en versnitting  van  die karkas.  

“Meatco het alle private kontrakverslagting opgeskort en Beefcor is reeds vir termyne vorentoe baie vol geboek. 

Hy sê Wagyu-beeste het groot karkasse en weeg lewendig, tussen 700 en 800 kg as dit slaggereed is. Dit beteken die karkasse neem langer om verkoel te word tot gewenste temperatuur van 4 grade Celsius wat vereis word vir gradering.   Gradering vind plaas deur ‘n internasionaal erkende skanderingsproses wat vir elke karkas vereis word en deur die Namibiese Vleisraad oorsien en toegepas word. 

Du Toit verduidelik dat Wagyu-snitte ook baie verskil van die van gewone beeskarkasse. “Wagyu’s se voorkwarte  spesifiek is baie groot en daaruit kan tot 13 verskillende snitte gehaal word.  

“Die verwerking en ontbening is dus uniek tot die ras.  

“Jy kan nie sukkel as jou diere reeds slaggereed is, die verbruiker soek die vleis en jy kry nie ‘n slagbeurt of ‘n plek om die verwerking te doen nie. Derhalwe het ons daarna gekyk om slagpale te koop of te bou.” 

BOU OF KOOP 

“Namibie beskik eintlik reeds oor ‘n ooraanbod van slagkapasiteit . Om nog ‘n nuwe slagaanleg te bou en nog nuwe slagkapasiteit te skep, is eintlik ‘n vermorsing. Daarom het ons besluit om ‘n bestaande slagplaas te koop en daar is op Rehoboth besluit,” verduidelik Du Toit. 

“Die aanleg is strategies goed geleë – dit is sentraal binne die produksie-omgewing vir bees- en skaapvleis in Namibië en ook teen die B1-roete.   

“Dit is reeds ‘n werkende en gelisensieerde klas-C-abattoir. Dit het aan die Rehoboth Gemeenskapstrust behoort, met wie ons onderhandel het en eindelik die slagplaas van gekoop het,” het hy verduidelik. 

Eienaarskap van die Voerkraal, abottoir, verwerking en bemarking sal gesetel wees tussen die Das Groep by name Exigrade sy Namibiese filiaal, Desert Wagyu wat aan Namibiese telers behoort . 

Du Toit verduidelik verder dat die Die groep beskik oor betrokkenheid in ‘n verskeidenheid van landbou aktiwiteite wat handel en vervaardiging insluit in RSA, Namibie en Australie.  

Die DAS-groep is ‘n familie-onderneming met  Jaco Smit as die besturende direkteur en aandeelhouer van die groep, terwyl Du Toit voorsitter van die direksie dien. 

Desert Wagyu is ‘n Namibies geregistreerde maatskappy wat omsien na die ontwikkeling, bemarking en voorsiening van Wagyu van die Rio aanleg. Desert Wagyu se eienaarskap dan ook gesetel in Namibies geregistreerde produsente. 

Die groep se Namibiese filiaal, Exigrade Feeds, bedryf reeds twee vismeel aanlegte in Namibië nl Walvisbaai en Luderitz. “Ons vervaardig vismeel waarvan  98% daarvan word uitgevoer,” het hy gesê.   

“Ons is reeds sedert 1992 by ‘n verskeidenheid van vervaardigingsprosesse betrokke – hierdie is dus niks vreemds vir ons nie,” sê hy.  

KAPASITEIT 

“Ons kyk na ‘n kapasiteit van minimum 14 000 bees per jaar en tussen 30 000 en 40 000 skape per jaar,” het Du Toit verduidelik. Hy sê hulle gaan hoë waarde, premie-markte met die abattoir teiken.  
“Ons beoog ‘n uitvoerfasiliteit en gaan net in die ‘boonste deel’ van die mark funksioneer. Ons wil nie kommersieel of op groot skaal met byvoorbeeld Meatco of Beefcor meeding nie. Ons mik vir die nismark.  

“Ons wil dieselfde doen met die skape – ons wil net die ‘beste deel’ van die mark dien en daarom sal ons dan bereid wees om aan die produsent ‘n premie te betaal, want die verbruiker is bereid om dit te doen. 

Du Toit sê tans is daar slegs 16 telers in die land en nie naastenby genoeg vir die abattoir om nou al teen volle kapasiteit te slag nie.  

“Volgende jaar sal ons seker 500 Wagyu’s hê om te slag – grotendeels uit slegs 4 telers.  

“Dit is maar nog nie eers 5% van die abattoir se kapasiteit nie. Ons gaan dan die kapasiteit opmaak deur vir ander slaghuise en byvoorbeeld vir Hartlief te slag.  

“Die aanleg is nie net daar vir Wagyu daar nie, maar soos die Wagyu-mark groei, sal ons al meer van die diere inneem vir verslagting – totdat ‘n mens uiteindelik die doel van die aanleg bereik,” verduidelik hy.  

Hy is van mening dat hierdie aanleg meer produsente kan aanmoedig om met Wagyu-beeste te begin boer, aangesien hulle verseker is van ‘n afset en ‘n keuse het of hy in ‘n osproduksie- of speenkalfproduksiestelsel wil hê. 

KEUSE 

Du Toit sê produsente sal oor twee opsies vir afset beskik, naamlik om ‘n bees wat slaggereed is aan die abattoir te lewer of hulle van speenkalwers te voorsien. 

“Ons gaan ‘n voerkraal by die abattoir vestig. Dit gaan dien as ‘n deurgangsfasiliteit vir beeste wat uitgaan Suid-Afrika toe, asook om slagdiere aan ons eie aanleg te verskaf.  

“Daarvoor sal ons dan speenkalwers en stoordiere van Wagyu-produsente aankoop, waarvoor ons  ‘n premie sal kan aanbied.  

“Dit kan dan aan die teler n opsie bied dat hy nie self finaal hoef af te rond vir slagting nie. Voer in Namibië is baie duur, beskibaarheid soms n probleem en droogtes ook periodiek deel van boerdery omstandighede en omgewing.  Strategiese voordeel vir die voornemende voerkraal  is dat die DAS-groep van maatskappye ook in die verskaffing van  veevoer grondstowwe spesialiseer en derhalwe deurlonde toegang daartoe het met skaalekonomie as n koste voordeel. Ons verskaf grondstowwe aan plaaslike sowel as  Suid-Afrikaanse veevoermaatskappye. Ons het dus beter toegang hiertoe asook kundigheid om die vee mee af te rond,” verduidelik hy. 

Die Wagyu-beesras, sy bestuurstelsels, gradering en versnitting  is nuut vir Namibië en dus is alles wat sedert 2017 tot hede gedoen word, eintlik nog pionierswerk, het Du Toit verduidelik. Wagyu-vleis word wereldwyd as ‘n gesogte nisproduk van hoë gehalte beskou en oorskry die vraag die aanbod by verre. Die wereldwye  verskuiwing van verbruikersvoorkeur van kwantiteit  na kwaliteit is tans een van die grootste dryfvere en sleutelsukses faktore van Wagyu produksie wereldwyd. 

Wagyu produksie word internasionaal oorsien deur die Wereld Wagyu Raad/Organisasie wat reeds 18 lidlande insluit (Namibie die jongste)  wat verseker dat dieselfde protokols, stelsels en standaarde wereldwyd toegepas word.